JY IS MYNE: stories oor verslawing
Die deerniswekkende verhaal van twee tieners wat worstel met dwelmverslawing en die skrywer se onbaatsugtige en liefdevolle bystand. Die leser raak diep onder die indruk van die bykans bomenslike wat van die verslaafdes gevra word om skoon te bly. En die magteloosheid en diep ontmoediging van die begeleier wanneer hulle weer terugval.
Hierdie ontroerende vertelling wil eerstens bewustheid skep oor die kwesbaarheid van ons jeug, veral dié wat vaderloos grootword. Tweedens word die inkomste uit die verkope van hierdie pragtige boek aangewend vir hulpverlening aan ander jongmense wat ook ingesuig is in die net van dwelmverslawing.
Die boek met sy treffende voorblad en fynbeplande uitleg en aanbieding, is gedruk in ‘n duidelike, gemaklik-leesbare skrif- en lettergrootte. Die teks word netjies afgewissel met bypassende foto’s wat gesig verleen aan die rolspelers in die verhaal.
Cobus se vloeiende taalgebruik is puik, waarlik ‘n kosbare leeservaring vir taalliefhebbers. Hierdie keurig versorgde hardeband koffietafelboek het selfs daardie unieke reuk van ‘n nuwe boek – menige boekliefhebber se ondergang!
In kort, hierdie boek behoort nie net op elke koffietafel in Stilbaai te lê nie, maar in elke gastehuis, vakansiehuis, spreekamer of wagkamer. Op elke plek waar mense blootgestel kan word aan die verhaal, en bewus kan word van die ellende en hooploosheid van verslaafdes.
Deur een (of meer!) van hierdie boeke te koop, hetsy vir u eie koffietafel, of as geskenk vir iemand anders, dra u by om hoop aan die hooploses te gee.
Dankie aan elkeen wat ‘n boek gekoop het. God seën u.
“Met hierdie boek vertel ek my storie van die afgelope vier jaar saam met twee tienerseuns. Albei van hulle is aan dwelms verslaaf. Dit is ‘n storie oor verslawing: ‘n storie so eie aan die tyd waarin ons leef: ‘n storie oor die pyn en hartseer in elke gemeenskap.” – Cobus Jordaan